Graad 8
Ek kan met my hele hart sê hierdie WWWK was net fees. Dit was lekker om net weg te breek van die besige lewe as student en langs die dam te kamp saam ou en nuwe vriende. Dit was soveel pret om saam die graad 8’s te kamp en vis te vang. -Carla Venter
Graad 9
As die weer nie jou planne beïnvloed nie en die daaglikse aktiwiteite voortgaan is dit ’n resep vir ’n fantastiese tyd. Die graad 9’s het verseker die gees gebring. Dit was ’n gesing en ’n boudskud-makietie waar ons in die dag geroei het. Dit is veilig om te sê dat die koue water nie ons warm gees laat afneem het nie. Ons vaar en ons roei nader aan God en aan mekaar. -Melissa Franken
Graad 10
WWWK 2019 was werklik n fees. Dis my eerste WWWK as Staatmaker gewees en die verskil tussen verkennerwees en staatmakerwees is nogal groot. As staatmaker het jy die geleentheid om kinders te beïnvloed en hulle lewenslesse te leer. Dit was werklik ‘n voorreg om by die graad 10’s te kon help. Seil is n baie lekker kenteken om aan te bied, veral as die res weet van seil. -Jeanri Nel
Graad 12
Hierdie jaar het ek die WWWK aangepak as staatmaker met twee legendes langs my sy – Inus en Ri-El. Ons het media behandel met die graad 12’s. Hulle het die geleentheid gekry om bietjie videos te neem, hul kreatiwiteit in te span en selfs n liedjie te skryf. Hulle kon ook middagetes saam die offisiere deurbring en sekeres was selfs slagoffers van die ‘rooi tassie’. Om eerlik te wees, dit was een van die lekkerste kampe waarop ek was en die gerugte dat Voortrekkers al hoe lekkerder raak hoe ouer jy word is definitief waar. Sien uit vir nog vele jare van staatmakerwees en kamp saam met hierdie ongelooflike mense. -André Venter

Be First to Comment