Kamp Ruk Skud

Om 6 uur die aand het die kampeerders almal informeel registreer langs die warm vuur. Die Kamp is met Bybel en gebed geopen en sommer gou het almal om die vuur gesit en gesels. Die vleis is vroegaand reeds oor die kole getrek terwyl die nuwelinge by die “Game of life” betrek is en so begin die eerste naweek van baie jare se sterk word. Letterlik. Met musiek in die agtergrond, het ons aandete geëet en daarna is daar ‘n wynproe sessie deur twee van die seniors aangebied. (Die wyn was ‘n versameling van raaisels wat deur die aanbieders opgespoor was, en met elke nuwe versnit, moes die wat deelneem probeer uit pluis watter tipe wyn dit bedoel was om te wees). Saam met die wyn is daar ‘n verskeidenheid van kase, beskuitjies en soetgoed bedien as versnapperinge. Om die kampvuur is daar gelag, gedans, opstote gedoen en kenisse gemaak.

Saterdag het koud en nat aangebreek en na n self-help ontbyt het almal vertrek om Franschoek n bietjie te gaan verken, aangesien die beplande staptog weens die weer nie kon realiseer nie. Met die koue lug, is daar deur sommige (brawe) Staatmakers melkskommels gedrink, terwyl ander die koue afgeweer het met ‘n koffie-proe geleentheid. Saam-saam het almal in die drietsigheid die kunsdorpie verken en al wat ‘n kunsgallery is, besoek.

Vier karre is vol studente gelaai en ons is terug na Wemmershoek toe vir n heerlike middagete waarna ‘n middagslapie baie aanloklik gelyk het. Met die goeie geselskap om die vuur en n vol program, het ons egter toe maar sonder klaargekom.

Die grootste groep het die sjokolade-proe by Spice-Route bygewoon, terwyl ander die Gin gaan proe het. ‘n Paar het by Fairview die verskeidenheid van kase op die proef gaan stel. Al was dit sopnat buite, het ons steeds elke oomblik gebruik wat ons kon.

Nat, koud en moeg het ons weer by Wemmershoek gekom en met die reën wat buite toeslaan, is die nuwelinge almal voor die kampvuur ingelyf. As simboliek moes hul die aandvuur aansteek. (En nie ‘n oomblik te vroeg nie! Met die gestort het die vuurmaakplek deur die skoorsteen begin nat raak, en teen die tyd wat die inlywing klaar was het die vuur binne ‘n dammetjie gestaan. Gelukkig was daar ‘n paar gesoute Voortrekkers wat nie vir enige weer terug staan nie, en die het die vlam selfs ten midde van die water aan die gang gehou)

‘n Heerlike hoenderpotjie is deur die kombuisspan begin, terwyl ander lede droër, warmer klere aan gaan trek het. Terwyl die kos klaar gemaak is, het ons almal warm en gesellig om die kampvuur gesit en beplan vir die aand. Na n lekker bord warm kos, het die sports begin.

Die kampvuur konsert is met n struikelende probeerslag deur die nuwelinge begin, maar binnekort het dit groot sports geraak soos wat grappe , tonele en selfs n “noodhulp” item opgevoer is. (Na die het die sports nie opgehou nie! Carla en Johan het vir ons die dansvloer geopen en selfs die ander Staatmakers betrek in ‘n reeks grapperige danse.Twee van die nuwelinge het later die aand ook die groep almal beïndruk met hulle vloer-vernuf). En natuurlik het die kampvuur hoog gebrand tot laat in die oggendure. So laat dat sommige wat nog gekuier het die wat vroeg moes ry kon groet by die vuur.

Sondag oggend is almal met spek en eiers in die kombuis verwelkom en na ontbyt, is daar as span opgeruim en skoongemaak.

As laaste aktiwiteit, het ons almal na ‘n nabye koppie gestap en die uitsig van bo bewonder. Met Godsdiens, gebed en ‘n laaste groepsfoto, is die kamp op die regte noot afgesluit.

Na ‘n naweek van soveel pret, opstote doen (wel gedaan Andrea) en vriendskappe smee, het alles tot n einde gekom. Die karre is gelaai, almal het gegroet en al is daar ‘n paar “Ek weet dis nou die einde van die kamp, maar wat is jou naam nou weer?” deur n nuweling gesê, is Wemmershoek met goeie herinneringe verlaat.

Wat maak n Kamp (Ruk Skud) so lekker? Nie koffie, pap en wors nie! Dis die kampvuur en die mense met wie jy dit deel. (En die eer om iemand met die ‘M-woord’ uit te vang ook, natuurlik.)

-Catharina Vice

-(Johannes de Bruyn)

 

Recent Posts

Instagram

Get new posts by email

Be First to Comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *