Die Indaba 2014

Die naweek van die 20ste Maart tot 23ste Maart het ʼn groepie van drie Stellenbosch Staatmakers die geleentheid aangegryp om die Voortrekker Indaba by die Hartebeesfontein Voortrekkerplaas buite Pretoria by te woon. Vir ons het die Indaba reeds op die busrit na die noorde begin toe ons die Vrystaat en Transvaalse Staatmakers opgetel het en saam deur die padwerke moes sit.

Die tema van die naweek was: Word onmiskenbaar. En ons het die voorreg gehad om na verskeie sprekers rakende hierdie onderwerp te luister. Die naweek het afgeskop met ʼn praatjie deur Prof Koos Malan wat ons toegespreek het oor Kultuur in die perspektief vir die hedendaagse jongmens wat hom/haarself as onmisbaar wil posisioneer. Dit was werklik insiggewend om te kon luister na iemand met so ʼn positiewe uitkyk op die politiese stand en kulturele kapitaal van die Afrikanervolk. Kort daarna het ons hoofleier, Danie Langner aan die beurt gekom om vir ons bietjie leiding te gee oor Die Voortrekkers se visie vir die Staatmakers en hoe ons onmiskenbaar moet word in alle omgewings waar ons onsself bevind.

Die daaropvolgende sprekers het die sosiale, ekonomiese en politieke realiteit aangespreek. Die sprekers het gewissel van Theo Ferreira (tema: Wat kan ek doen om myself onmisbaar te maak as die leier van more, die leier vir myself en die leier van ander), AHL Mauritz Meiring (tema: Wat kan die moontlike plan wees met ons lewe) tot Dr Roelof Botha (tema: Hoe lyk die wêreld rondom ons en hoe raak dit my en my toekoms en Prof Piet Croucamp (tema: Die anderkant van die draad waaroor ons nie so maklik praat nie). Die inhoud van die toesprake het werklik tot die luisteraar gespreek en het gevarieer van sielkundige ontleding oor hoe Die Voortrekkers tot ons voordeel kan werk tot stories oor dinge wat in die apartheidsjare gebeur het en die politieke waarhede waaroor ons nie altyd wil gesels nie.

Na afloop van elke sessie het ons in kleiner groepies opgedeel om die toesprake te bespreek en dan het ons terugvoer gegee oor ons idees en hoe die toekoms vir elkeen van ons lyk. Die laaste sessie het die nuwe uitkyk van Staatmakers bespreek en wat die Staatmaker loopbaan in die toekoms gaan inhou. Ons het kans gehad om die voorlopige Staatmakerprogramme te ontleed en ons bekommernisse en hindernisse daaroor uit te spreek. Ons het ook voorstelle gegee oor watter onderwerpe nog in die program ingewerk moet word en hoe dit meer geredelik met Die Voortrekkers belyn kan word.

Daar was natuurlik ook tyd vir pret deur die loop van die naweek en ons is die een aand vermaak deur ʼn dromsirkel met jemba dromme. Dit was ʼn heerlike aand op die ritme van die lewe. Baie lag, prettige toesprake, nuwe vriendskappe en groot toekomsplanne is slegs ʼn paar van die woorde waarmee ons hierdie naweek kan beskryf.

Die Indaba 2014 was werklik ʼn groot sukses. ʼn Groot woord van dank aan Taakgroep Staatmakers wat hierdie ervaring moontlik gemaak het. Ons hoop dat hierdie nie die einde van hierdie besonderse kamp sal wees nie, maar dat ons elke jaar sal saamkom en herinner sal word om as Staatmakers onmiskenbaar te word in ons eie realiteit.

Emcy De Beer

Recent Posts

Instagram

Get new posts by email

Be First to Comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *